Die Nuwe Platteland Trekkers

moving to the platteland

Kom kuier in die Platteland – miskien sal jy uiteindelik hier trek.

Woorde: Julienne du Toit

Vertaling: Die Burger Oos-Kaap

Fotos: Chris Marais

Om Karoo toe te trek is soos om te emigreer, maar met oefenwieletjies aan. Jou vriende in Kaapstad en Johannesburg is nog maklik bereikbaar, die papiergeld lyk nog dieselfde en die mense praat dieselfde taal – meestal. Moet egter nie ’n fout maak nie. Jy trek in effek na ’n ander land toe, en dis ’n heerlike plek.

Die eerste jaar nadat ons Cradock toe gekom het, het ons ’n Kerskaartjie in die pos gekry – diep in Januarie. Frans Smit, ons buurman oorkant die pad, het dit vir ons gebring, maar ons was nie teleurgesteld in die swak posdiens nie en ek het nie geswets oor iemand se onbevoegdheid nie. Trouens, ek en Chris het in stomme verbasing na die koevert gestaan en staar.

moving to the platteland

Johan Trollip was ‘n bankier in Switserland voor hy ‘n skilder in Steytlerville geword het.

Die kaartjie was van my oom Peter en tannie Cathy in Duitsland, maar op die koevert was daar geen straatadres, poskode of provinsie nie. My oom het ’n e-posboodskap opgespoor waarin ek hom vertel het van ons nuwe lewe (en bure) in dié klein Karoodorpie, maar hy kon ons nie betyds in die hande kry om ons adresbesonderhede te bekom nie.

Tog (het ek later besef) weet vroue by die poskantoor alles. Hulle is besonder bekwaam en onthou selfs ons verjaardae en prop dan gelukwensings in ons posbus! Sou so iets ooit in Johannesburg gebeur het?

Laat die koppe draai

Hier’s nog iets wat nie in die stad sal gebeur nie. Wanneer ek in die groot stad ’n draai by ’n haarsalon moet maak, kos dit in die omgewing van R700. Die prys is genoeg om my moed te breek en sommer te laat opsien na die hele uitstappie. Dan praat ek nie eens van die effense neus-in-die-lug-houding van die personeel en die klandisie nie.

Hier op Cradock gaan ek na Turning Heads. Dis langs Carozel Page, die eienaar, se huis. Terwyl sy en Rosie besig is om foelie in my hare te draai om ligstrepies in te sit, wedywer die katte vir ’n plek op my skoot. Dan gesels ons oor koeitjies en kalfies, die boeke wat ons onlangs gelees het en die dorp se skindernuus. Wanneer alles klaar is, vra Carozel my minder as die helfte van wat dieselfde behandeling my in die stad sou gekos het en dit lyk boonop beter. Dit neem hulle net 5 minute om Chris se hare te sny met die “Number 2 special” en dit lyk net so goed as wanneer hy dit by ’n barbier in die stad laat doen.

ʼn Agterstevoor gekibbel

Spitstyd Cradock...

Spitstyd Cradock…

Hier kibbel mense nog oor die prys van ’n ding en voor jy nog jou mond oopgemaak het, het hulle hulself afgestry! Soos eenkeer toe ons van ’n nasionale koerierdiens se plaaslike kantoor gebruik moes maak. Ons het ’n stapel gelamineerde dokumente gehad wat noodgedwonge die volgende dag in Johannesburg moes wees. Ons het geweet dit gaan ons ’n plaas se prys kos.

Die man by die koeriermaatskappy se kantoor het die goed op die skaal gelaai en geskok na sy asem gesnak. “Is julle seker dit móét môre daar wees? As dit nie dringend is nie, kan ek julle minder vra,” het hy gestamel.

Daar was egter geen ander uitweg nie, want dit was dringend. Die man het ons teësinnig gewys wat dit sou kos: bykans R600. Ons het maar oë toegeknyp en dit gelate aanvaar, want dit was min of meer wat ons verwag het.

“Nee, nee,” het hy gemompel. “Dis darem wraggies te veel. Wat hiervan?” Hy skryf toe ’n ander bedrag op ’n stukkie papier neer en kyk ons vraend aan. R150.

“Kom ons maak dit R200,” het Chris gesê en die transaksie is beklink.

Vat jou tyd

moving to the platteland

Julienne du Toit, hoof-outeur van Moving to the Platteland – Life in Small Town South Africa.

Dinge is natuurlik nie altyd so idillies nie. In die stad dra ’n mens jou anonimiteit soos ’n mantel wat jou onsigbaar maak, maar op ’n klein dorpie is dit ’n ander storie. Hier is ’n mens ongenaakbaar blootgestel. Mense wat jy nog nooit ontmoet het nie, weet wie jy is en sal in die verbygaan vir jou waai.

Vir die eerste paar maande was ons nogal paranoïes. “Wie’s daai?” sou ons onderlangs vir mekaar sis. Erger nog, mense wat jy van geen Adam af ken nie, sal breedvoerig vir jou vertel hoe hulle jou die vorige dag by sus en so winkel gesien het en selfs wat jy gedoen het en wat se klere jy aangehad het! Dit ontsenu ’n mens nogal!

’n Mens raak dit egter mettertyd gewoond en naderhand voel jy jammer vir die stedelinge wat mekaar nie in die oë durf kyk nie. Hier kyk ons mekaar in die oë. Ons knik en glimlag om te groet en elkeen word herken, erken en gereken. Ons ken die name van die ouens wat buite die winkels rondhang en karre oppas.

Wat maak dit dan saak as ’n tienminuut-uitstappie om gou brood en melk te koop dan ’n uur lank duur?

Jy hoef mos nie huis toe te jaag om die verkeer te ontduik nie.

Beplan eers mooi voor jy ’n treklorrie reël

Chris en Julienne se 12 gebooie vir verhuising na die platteland

  1. Doen navorsing, navorsing en nóg navorsing

    moving to the platteland

    Kyk goed rond voor jy intrek.

Besoek Karoo Space se webblad en snuffel ’n bietjie rond in die Hooftrekke en in die Sentraal-Karoo-afdeling. Die Karoo-e-boekstel sluit Karoo Keepsakes I, Karoo Keepsakes II en 101 Karoo Towns in en is ʼn’n winskoop. Sodra jy ses plekke opgespoor het wat jou interesseer, kom ’n slag hierheen en verken hulle self en soek die dorpie wat jou soos ’n handskoen sal pas.

  1. Begin kraakvars

Aandelemakelaars kweek skielik rose. Sakekenners word kaaskoppe. Voormalige steenkoolmynwerkers maak nou woudfeetjies vir ’n lewe en oud-joernaliste verander in nuwe wynmakers . . . wat sekerlik nie ’n vreeslike herskepping is nie, maar ten minste is dit iets. Die punt is, dié plek gee mense die geleentheid om te doen waarvan hulle nog net gedroom het.

  1. Maak ʼn’n lysie

Hoe ondersteun die dorp wat jy gekies het jou professionele werksplan? Hoe goed is die breëband-opvangs? Lewer die koerierdienste daagliks af? Hoe lyk jou klantebasis? Besin mooi oor wat jy gaan doen om vir jouself ’n lewe in die Karoo te bou. Die geheim is om jou klante sommer saam met jou te laat trek . . . spreekwoordelik, natuurlik!

  1. Vestig jou sosiale netwerk

Maak seker jy het iemand waarmee jy kan gesels, wat saam met jou kan bid, wat saam met jou nuwe projekte sal kan aanpak, wat ’n goeie boek, film of liedjie met jou kan deel, of selfs saam hoenderkop kan word as dit moet. ’n Groot bende is nie nodig nie; eerder net ’n paartjie of drie. Onthou net, jy kan nie in afsondering leef nie, al is jou TV-skerm ook hoe groot en plat!

  1. Ontwikkel jou ondersteuningsdienste

Op klein dorpies is daar altyd iemand handig in die omtrek – ’n Handige Hansie wat sommer in ’n japtrap jou broodrooster, stofsuier én ketel so goed soos ’n nuwe een kan regmaak en wat nie te veel daarvoor vra nie. Alles gaan oor ménse. Jy ken die persoon wat aan jou waterpype werk, jou belasting doen, die gaatjies in jou tande regmaak, jou bloeddruk neem, jou rug masseer en selfs die persoon wat aan jou ysterware verkoop almal op die naam. Hoe dan anders – jy sien hulle tog kort-kort! Maak egter seker jou dorpie het minstens twee rekenaarboffins– hulle is goud werd wanneer jou rekenaar besluit om te groet.

  1. Maak ’n kragplan

    moving to the platteland

    Dis nie altyd so stil in die Platteland nie.

Ons het ’n noodplan vir kragonderbrekings (in die winter) wat ’n knetterende vuur, kerslig, kaas en beskuitjies, rooiwyn en die rustige klanke van ’n Spaanse kitaar insluit. Dié plan word dikwels in aksie gestel en as die ligte dan weer aangaan, skakel ons dit eenvoudig net weer af en gaan aan met ons gerinkink.

Natuurlik is daar ook mense wat van meer gesofistikeerde vorme van kragsteun gebruik wil maak – kragopwekkers, sonkragpanele, windpompe en reënwatertenks – dit is seker ook die moeite werd.

  1. Tref voorsorg vir siekte

Gaan loer in by die plaaslike hospitaal. Lyk dit aanvaarbaar of soos net nóg ’n depressiewe kiemfabriek? Werk dan uit waarheen jy heen sal moet gaan as daar ’n mediese noodgeval sou opduik. Vind ook sommer uit of daar ’n behoorlike private ambulansdiens is wat jou na ’n hospitaal in ’n groot stad kan bring as dit nodig is en of jou mediese fonds dit sal dek.

  1. Leer jou kinders mooi

    moving to the platteland

    Die Platteland – perfek vir kinders.

Doen navorsing oor die skoolstelsel. Goeie skole wat uiteenlopende aktiwiteite bied, bring nie net besigheid na die dorp toe nie, maar dit kweek ook goedgesindheid onder die ouers en dit spreek tot die toekoms van die gemeenskap omdat dit beloftes bou. Daar is inderdaad niks treuriger as verlate ou skoolterreine nie – en min dinge so vrolik soos ’n volgepakte paviljoen waar ywerige ondersteuners luidkeels die hoërskool se rugbywedstryd ondersteun.

  1. Bestuur jou begroting

Verhuringskoste op die platteland is laer, plaaslike huur jaag nie jou algemene koste deur die dak nie, en oor die algemeen val ’n mens se lewenskoste drasties – saam met jou versekeringskoste.

Onthou egter net die varsste groente word altyd in stede verkoop. Dit is maar ’n nare waarheid, soos braaivleisrook wat jou altyd agtervolg as jy by ’n partytjie is.

10. Kies ’n kampvegter

Dit help regtig baie as ’n dorp ’n plaaslike kampvegter het. Op die platteland is dit weliswaar moontlik dat een persoon ’n verskil kan maak. Daardie persoon is gewoonlik soos ’n fakkel vir toerisme in die dorp; iemand met ’n passie om die plaaslike erfenis te herstel, wie se bloed kook wanneer daar rommel gestrooi word of die dorpie op enige manier afgekraak word.

Nader dié persoon, word vriende en help wanneer jy ook al kan.

11. Soek die dorpstorieMoving Lo Res (3)

Dit mag dalk vir sommige mense afgesaag klink, maar kyk uit vir ’n dorpie wat sy eie storie mooi vertel.

Dit is gewoonlik ’n plek met ’n klomp feeste, toergidse en bobaas-storievertellers. Ry egter eerder verby dorpies wat al te gekunsteld geword het, want hulle het waarskynlik nie jou intellektuele kapitaal nodig nie.

12. Oppas .

Wees versigtig vir vuil dorpies waar niemand eens die water wil drink nie. Gemors en swak waterbestuur is twee van die duidelikste tekens van dieper skade – spore wat ’n mens direk na die voorportaal van die plaaslike munisipaliteit lei.

As jy wel ’n dorp vind waar die stadsraad saam met die munisipale amptenare om ’n tafel kan sit en iets kan uitwerk wat almal sal baat, dan het jy ’n wenner ontdek.

Bestel die boek HIER en die E-boek HIER

, , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply