My Nuwe Vrinne in Williston

williston, northern cape

Pieter Naude in die Doppies Bar, Williston Mall.

Storie en Fotos ~ Jacques Marais

‘n Week of wat gelede was Williston vir my ‘n klein kolletjie êrens op ‘n kaart van die Bo-Karoo, maar na my onlangse kuier daar voel ek of ek op bladskud-terme is met helfte van die mense in hierdie eksentrieke dorpie. Jip, dis mos nou maar hoe die Karoo werk, of hoe!

Die plan was om Open Africa – ‘n NPO wat gemeenskappe in die platteland bystaan deur hul omgewing te help bemark – se ‘Karoo-Hooglande’ Roete te pak, maar ek het vinnig besef ek sou uit tyd uit hardloop. Daar is net te veel om te sien, dus het ons toe maar besluit om dié keer te fokus op die oostelike gedeelte van die Bo-Karoo, met Williston eerste op die lys.

williston mall, northern cape

Elmarie Naude en haar bekoorlike ‘Karoo Soft Porn’ by die Williston Mall.

Een ding is seker, stop hier en jy’s in die oorspronklike “Koninkryk van Kwinkslae’, veral indien ‘Die Ark’ (by Die Williston Mall) jou eerste oorstaan plekkie sou wees. Pieter en Elmarie Naude is aan die helm van hierdie gastehuis-kroeg-ateljee-teater-restaurant-antieke-winkel , en jy beter reg wees vir ‘n hele paar bek-oophang oomblikke.

Koeks, die Jack Russel, lees kamstig ‘Die Voorligter’; Elmarie se Reubenesque ‘Karoo Porn’ skilderye hang tussen ou Peter Stuyvesant advertensie borde; plastiek blomme dryf in die woel-poel net buite die kroeg; en oral waar jy kyk raak jy ge-saaid-track deur ‘n nimmer-eindigende parade van alles wat eienaardig en vreemd of wonderbaarlik is.

Karakters kom en gaan deur die voordeur (kyk uit vir die dominee, konsuis met papegaai en tatoes), en verlustig jou in ‘n eindelose toevoer van yskoue bier. Jip, hierdie stowwerige dorp is die perfekte voorsmakie vir die kos-, kuns- en buitelug avonture wat jy verder op die Open Africa ‘Karoo Hooglande’ Roete kan verwag.

williston

Oggendrit op ‘n agterpad in die Karoo Hoogland buite Williston, Noord Kaap.

Dinge om te Doen

Sluk ‘n paar biere, maar hou matigheid voor oë, want binnekort moet jy koers kies al met die Richmond grondpad langs. Kyk uit na sowat 10km vir ‘n padteken na Langbaken Plaas aan jou regterkant. Dis hier waar Peter en Francy Schoeman ‘n reeks handgemaakte kase skep, en meer pikant gaan jy nie sommer in Suid-Afrika kry nie.

Daar is ‘n tipiese Karoo korbeel huisie reg langs die melkery, met sommer nog heelwat van hierdie geskiedkundige veeboer-wonings gespikkel op buurplase in die omgewing. Dié koepel-huisies van klip voer jou mee na meer as ‘n eeu terug tot die tyd van die vroeë Trekboere wat hier op die verlate vlaktes kom woon het.

langbaken

Franci Schoeman in haar kaaskamer op Langbaken Plaas.

Dis ook hierdie einste vlaktes wat soggens met dagbreek op jou en jou bergfiets wag, so saal op en gooi vars spore terwyl jy die geur van bitter-Karoo bossie inadem.  Dis prima platteland hierdie, met merino skape, springbokke, koedoe, eland en dosyne steenbok wat saam hol terwyl jy vir ‘n vale stof-streep.

Verbeel jou jy is êrens op die Boliviaanse altiplano wanneer jy op die buurplaas Dagbreek ‘n trop Suid-Amerikaanse llamas raakloop. (En pasop, hulle spoeg)! Hoog in die duifeier-blou van die lug draai daar heel moontlik ‘n witkruisarend of twee, luilekker op soek na ‘n wegneem-dassie wat oral op die doleriet kranse rond snuffel.

langbaken

Die korbeelhuisie op Langbaken.

Eet en Bly Hier

Die Schoemans het in 2010 na hul familie-plaas toe terug getrek, en dit was juis toe Francy besluit het om haar kaasmakery met twaalf van Langbaken se jersey koeie te begin. Dié nie-gepasteuriseerde proses gaan oor handewerk en hope passie, en haar ‘Karoo Blue’ het onder andere al die nasionale ‘Slow Food’ en ‘Qualite’  toekennings losgeslaan. Kaas-proe besoeke kan gereël word, maar jy moet voor die tyd skakel op (053) 391 4161 of (082) 550 4981.

Indien jy graag in die omgewing wil oorbly, is Dagbreek se gastehuis net die plek vir jou as jy ordentlik wil ontsnap. Die vibe is rustig en propers plaas hier teen die Sakrivier, en teen slegs R300 per persoon is alle aktiwiteite ingesluit. Bring jou 4×4 en bergfiets, sowel as ‘n verkyker vir watervoëls en (hopelik) een van die uiters skaars oewer konyne wat mens hier te sien kry. Die huisie is toegerus met gas, en saans is die sterre ‘n absolute belewenis! Skakel gerus met Sanet op (082) 373 2694 of (053) 391 4142

upper karoo

Die Karoo Hoogland – tuiste van die korbeelhuis.

Doen-Dit-Self

Neem die N7 vanaf Kaapstad tot by Vanrhynsdorp, en kies dan koers met die R27 en R63 deur Calvinia tot in Williston. Beplan om vir sowat 5-6 uur op die pad te wees.

  • Jacques Marais is ‘n grondpad ghoeroe met so bietjie van ‘n Afrika-obsessie. Hy staan wyd en suid bekend as die #DieOom, en kanse is goed dat jy hom gaan raakloop terwyl hy per fiets of te voet van Suid-Afrika se kiefste wegsteek plekkies verken … veral indien daar ‘n kroeg met koue bier in die omgewing te vinde is. Marais het sowat ‘n dosyn boeke agter sy naam, en sy stories en foto’s verskyn gereeld in publikasies reg rondom die wêreld. Hy is ook ‘n ambassadeur vir PENTAX, SONY XPERIA en GIANT BICYCLES. Volg hom gerus op Twitter @jacqmaraisphoto of besoek sy webwerf – jacquesmarais.co.za
  • Afrikaans Boeke oor die Karoo – beskikbaar HIER.

locovers0005locovers0004

 

 

 

 

 

 

 

 

, , , , , , ,

2 Responses to My Nuwe Vrinne in Williston

  1. Sanette van Wyk February 15, 2017 at 1:25 pm #

    I’m so sad I missed the famous nature-loving people when you visited Dagbreek, Williston. Thanks for the interesting articles and beautiful pictures of our Karoo Places and animals. Glad the Llamas did not spit on you and I hope you will come visit again. Thanks for all the good that you do.

  2. Dirk van Rensburg February 17, 2017 at 1:55 pm #

    Wonderlik dis al wat ek wil byvoeg!!!!

Leave a Reply