Verplaas – deur Clinton V du Plessis

"Ek wil ver in die veld stap, lui rustige treë gee..."

“Ek wil ver in die veld stap, lui rustige treë gee…”

Nie nóú nie Heer:
ek wil die winter nog een keer
voel kom,
wit teen die hange sien
plak soos plaak.

Dan ook weer die lente,
die veld
groen plate sien maak,
die nuwe lewe wat kol-kol beur
deur die noute van die skeur

weer die skaap sien lam…

ek wil na die windpomp se
ywerige knarskraak
luister,
die water voel
pomp
onder my hand,
ek wil ver in die veld
stap,
lui rustige treë gee,

weg van dak en deur
en raam en ruit,

die honde uitasem
langs my deur die gras
hoor
ritsel,
die skoenlappers geel en swart
sien
fladdervlerk,

hierdie grond word
’n heilige kerk
die evangelie kom van die uil
wat snags in die donker boom skuil

kom van die plaag en die pes, die roes en die rot
die oes wat aan die boom bly verrot.

Net nog één seisoen Heer
voordat ek hierdie alfabet van die grond af moet leer.

Uit die bundel:  Woorde roes in die water.
Beskikbaar van http://www.kalahari.com of stuur ‘n epos aan clintonvduplessis@gmail.com.

Digbundel van Karoo skrywer Clinton V du Plessis.

Digbundel van Karoo skrywer Clinton V du Plessis.

 

, , ,

One Response to Verplaas – deur Clinton V du Plessis

  1. Dirk van Rensburg February 3, 2017 at 4:08 pm #

    Remarkable !!!!

Leave a Reply