Woorde: Jurie Taljaard
Koud is ‘n relatiewe begrip soos die meeste ander begrippe. Selfs al kan dit akkuraat met grade gemeet word. As dit gedurende die dag 16 of 17 grade is, trek ek haastig ‘n warm ding aan; in die nag skop ek al wat ‘n kombers is af teen daardie selfde temperatuur. Nul grade is vrek koud. In die Boland is dit koud en klam; in Europa waarskynlik ook.
Maar in die Karoo is nul grade anders. Dalk nie kouer nie, maar anders. Baie anders.
So ‘n aantal jare gelede was daar ‘n realiteitsprogram van die BBC getiteld The World’s Strictest Parents. In hierdie program word tieners uit hoofsaaklik London vir ‘n tydperk op verskillende plekke in die wêreld geplaas onder omstandighede wat vir hulle vreemd is.
So is daar twee van hulle hier in ons Karoo-omgewing geplaas. By Hannes op die plaas in die middel van die winter. Hulle grootste klagte was die koue! Hierdie kinders uit ysige Europa. “It is different here, this cold,” sê die seun, “it creeps into your bones.”
‘n Wintersoggend in die Karoo is ‘n moer koue ding. Mooi ook. Crisp. Maar dan moet jy teen die moerkoue verskans wees. En die groot meerderheid van karoomense het nie altyd daardie verskansing nie.
Dis daardie besef wat ‘n paar van die vrouens aan die dink, en toe aan die brei en hekel gesit het.
Maar wat? Komberse? Truie? Nee, reken die Elf. ‘n Mens se pit en jou nek moet warm kry, reken sy. Serpe en musse is die ding. ‘n Serp vat nie net die koue weg nie. Dis weelderig, Jy voel ryker en meer mens. En so het die proses begin.
Daar is nie gelees nie; daar is gebrei. Daar is nie gefokus op wat jou man vir jou wil vertel nie; daar is gehekel. Flieks is afgeskeep ten gunste van YouTube-videos wat praat van dinge soos “skip one and yarn over”.
Gesprekke het skielik begin handel oor keerdatums en woltipes en serplengtes en musgroottes. En was hulle besig! Ouma Berna het op ouderdom 84 twintig serpe meer as haar ouderdom gebrei!
Gaandeweg is die manne ook ingetrek. Nie as breiers of hekelers nie, maar as wolkopers, klankborde, gaanhalers, afleweraars.
Op ‘n Sondag vroeg in die winter is die serpe klaar en ons ry veld in met Jaap se bakkie met die serpe en koffie en brekfisbuns en fudgepaai.
Serpe word aan drade en hekke gehang, en daar word foto’s geneem. Nie vir brag of gaan wys nie, maar vir eie plesier. En toe die groot gesprek. Wat nou gemaak met die serpe. Gaan aflewer by die skuiling, of gaan hang êrens? Gaan hang wen.
“Waar?” is die volgende vraag. Die kerk se heining is ‘n moontlikheid, maar dan word dit weer ‘n instansie se projek om mee te spog. Dieselfde met die skool se heining.
Uiteindelik word dit vroegoggend aan Gibson en Vernie se heinings gehang. Geen selfgenoegsame gewers en verleë nemers is betrokke by die proses nie. Net dankbare mense wat serpe en musse van heinings afhaal; en ‘n paar breiers wat eenkant in ‘n kar die proses skelm dophou.
Een insittende kla oor ‘n vrou 5 serpe afhaal; ‘n ander antwoord sy sou ook – vir haar kinders en ouma en alle ander met koue nekke.
Ou oom Jorp reken as hy die lotto wen, gaan hy mense in diens neem om serpe te brei en verniet uit te deel.
Minder as ‘n jaar later wen ou oom Jorp toe wragtig die Lotto. En hy gaan bou ‘n knus huisie langs die weskus, vang vis elke dag – vergeet van koue karoo-oggende.
En die Karoo-vrouens? Hulle hekel en brei en stuur kapitalisme in sy moer – elke winter.
Uitstekende article! Lekker gelees, ja daar is nog goeie mense in die wereld.
I love the scarf story!