Cornelius de Waal was ‘n ware bewoner van die Hardemans-Karoo. Sy spesialiteit, die uitkerf van grafstene, was nie ‘n werkie vir senuagtige hande nie.
Eers sou hy die perfekte stuk sandsteen met sorg uitsoek vir die spesifieke grafsteen. Dan sou hy ‘n paar gate om die geskikte deel boor en nat houtstokke daarin kap. Soos die stokke swel, sal die stuk sandsteen uiteindelik losbreek … Phew.
Daarna moes die blad met ‘n donkiekar aangery word tot by die graf, waarna hy maande sou spandeer aan die poleer, fatsoenering en uitkerf van blomme op die klip voordat hy einde ten laaste sou begin bytel aan die inskripsie waarop die familie besluit het. Die De Waal-grafstene word nou beskou as volkskuns.
“Somtyds het hy tot ses maande gevat met die kerf van ‘n steen“, sê een van die plaaslike inwoners, “dan breek daar dalk ‘n hoekie af en dan moet hy weer van vooraf begin.”
Ry gerus uit om die werke van Cornelius de Waal te gaan besigtig – hulle staan nog daar in die begraafplaas knap by die Amandelboom- nedersetting, die oorspronklike hart van Williston. Daar’s selfs ‘n grafsteenroete na naburige plase.
Sterfte-rites in die Karoo bly fassinerend. Hier was dit byvoorbeeld ‘n algemene verskynsel dat die doodskis lank reeds gereed lê op die solder. “n Baie handige stoorplek vir droëvrugte – tot dit tyd word om die roete na die lang bome toe aan te durf …
Uittreksel uit Knapsak vol Karoo I, deur Chris Marais en Julienne du Toit (MLM Uitgewers, 2009). Vertaler: Melina Smit. Redigering: Jurie & Elsje Taljaard.
Kom kuier gerus by ons nuwe e-Boekwinkel.
Om op ‘n ‘grafsteen toer’ te gaan, bel Tannie Elsa van Schalkwyk in Williston op 072 074 0919.