
En het jy geweet dat die Amerikaanse gangster, Al Capone, Jagersfontein-diamante verkies het bo alle ander juwele? Maar Al se “Jagers Rock” was maar ‘n pieperige ou klippie in vergelyking met die 995-karaat wonder genaamd, Excelsior, ‘n blou-wit diamant.

Kyk gerus uit vir die silwergeverfde Leeukop “brandkrane’ wat oral-oor Jagersfontein soos vraagtekens sonder sin staan. In die goeie ou dae kon jy met ‘n spesiale tweepenniemuntstuk drie gelling skoon heilige water uit hulle tap.
En as jy bloot deurry, stop tog vir ‘n koffietjie by Gil Vermaak by die Glaasstudio-kompleks. Hier maak hulle en ‘n span van die plaaslike handwerk-kunstenaars towerlampe, diere en Afrika-beeldjies uit draad, krale en gekleurde glas.

Dan is daar die storie oor die tuinier wat ‘n baie groot diamant in sy baas se agterplaas opgetel het. Hy het dit vir twee volle maande in sy kerkbaadjie se sak gebêre voordat sy gewete hom gery het tot by die naaste polisiestasie.
Die slim ouens meen dat ‘n groot fortuin in diamante nog in die uitskot-hope lê. Was Jagersfontein ‘n dorp in Amerika, sou dit ‘n toeriste-attraksie van formaat gewees het.
Uittreksel uit Knapsak vol Karoo I, deur Chris Marais en Julienne du Toit (MLM Uitgewers, 2009). Vertaler: Melina Smit. Redigering: Jurie & Elsje Taljaard.
Kom kuier gerus by ons nuwe e-Boekwinkel.