Ten spyte van die beperkings en die godverlate landskap waarbinne hulle moes leef, het die manne van die myne omtrent ‘n lekker tyd gehad. Namakwalanders is nie verniet bekend as voordansers nie. Op Saterdagaande het dié vroulose manne dus op hul eie gedans tot voordag toe, ‘n hele paar rowwe tiekiedraaie later. By nabygeleë Grootderm, het die plaaslike skoolhoof buldanse vir die myners in sy skooltjie se kantien gehou.
En toe die vrouens in later jare die gemeenskap begin infiltreer, het dit dikwels gebeur dat ‘n oorentoesiastiese dansmaat hulle so hoog soos die dakbalke gegooi het. “Gaan dans met jou vriende”, was ‘n algemene refrein uit die monde van effe gekneusde vroue. Ja, dit was die dae van beachpaarties, knewel-krewe wat neffens krys in groot dromme kokende seewater, epiese visvangekspedisies en af en toe te veel Cape Smoke, ‘n venynige perdjie uit die brandewynstal.
Dan het jy ook nooit van ‘n diamant mog praat nie. “Ons is gesê om die woord “produk” te gebruik as ons wil praat van, uhm, diamante,” het Pieter Koegelenberg, ‘n man wat ‘n kwarteeu van sy lewe aan Alexanderbaai afgestaan het, vertel. Kinders wat die speletjie “diamant in die sand” wou speel, is beduie om eerder “pêrel” te sê … Nou hoe rym dit?
Uittreksel uit Knapsak vol Karoo I, deur Chris Marais en Julienne du Toit (MLM Uitgewers, 2009). Vertaler: Melina Smit. Redigering: Jurie & Elsje Taljaard.
Kom kuier gerus by ons nuwe e-Boekwinkel.