Port Nolloth se duikers, wat die noordweskus van Suid-Afrika patrolleer, is self ‘n klomp ongeslypte diamante. Vir vier dae van elke maand strompel mans, aangetrek soos die duikers in Jules Verne se vertellings, op die seevloer rond. Hulle sleep reuse suigpype oor die ruwe bodem in die hoop dat daar van die gladgeskuurde, kosbare klein Oranjerivier-diamante sal kopuitsteek.
As hulle niks kry nie, was dit net nog ‘n dag ter see in ‘n klein Tuppie (kort vir “Tupperware”, ‘n bynaam vir die diamantskuite hierlangs) met duik-tjommies, ‘n hutspot en ‘n boks wyn. Maar as daar ‘n beduidenis van iets o, so lekker blink, op die boot is, is dit: “Draai oppie volume, ouens. Hierdie gaan ‘n lekker lang nag word.”
En as die see sy “oep vi koep”-bordjie omdraai vir die res van die maand, werk die gestrande duikers aan hul bote, hul toerusting, hul huise, hul gesinne en landsake. En, natuurlik, aan die plaaslike kroeg.
Port Nolloth is ingewikkel tussen twee diamant-spergebiede (een word deur De Beers besit en een deur die regering in vennootskap met die plaaslike Richtersveld-gemeenskap). Die plek het dus maar altyd ‘n bekoring ingehou vir al wat diamantsmokkelaar was. Maar wat sou ‘n ware delwersdorpie wees sonder die boewe, hulle bywywe en die buit.
Uittreksel uit Knapsak vol Karoo I, deur Chris Marais en Julienne du Toit (MLM Uitgewers, 2009). Vertaler: Melina Smit. Redigering: Jurie & Elsje Taljaard.
Kom kuier gerus by ons nuwe e-Boekwinkel.