Vir solank as wat enigeen kan onthou, het die mense van die Richtersveld die Namastap gedans. Soos frilletjie-kappies, brood gebak in ‘n klei-oond en ronderug matjieshuise, is dit deel van die tradisie en kultuur van die area.
Die Nama Stap, met sy aitsa-ritme word gedans by troues, vir ‘n dankie-sê-makietie, ag, sommer om fees te vier oor enigiets of enigiemand. Die deelnemers is altyd besadig aangetrek, die meisies met kopdoeke en langerige rokke, die mans in hul Sondagbeste. En dan is dit ‘n glyende, draaiende, swaaiende, stap-trap-stap.
Dit herinner sterk aan die Texas line dance, met ‘n verskeidenheid maats wat saam dans. Een van die meer spesiale weergawes van die dans – een wat vandag selde gesien word – is die dans wat ‘n jong meisie se eerste menstruasie vier.
Eers word die meisie eenkant na haar eie matjieshuis geneem en vir die hele maand kom sy nie weer uit nie. Die ouer vroue sien om na al haar behoeftes, laat haar spesiaal voel, bring vir haar kos en vertel vir haar wat dit beteken om ‘n ware Nama-vrou te wees.
As die maand ten einde loop, kom die hele groep bymekaar. Die jong meisie is, soos sommige van die ouer mense dit stel, “aangetrek om soos ‘n springbok te lyk”. Dis ‘n feestelike geleentheid en ‘n kans vir die jong manne om hul flikkers te gooi. Maar sy moet gewillig wees en hy moet oortuigend wees, want die een wat haar wil hê moet haar “onder die beskermende arms van haar chaperones uitdans”.
Uittreksel uit Knapsak vol Karoo I, deur Chris Marais en Julienne du Toit (MLM Uitgewers, 2009). Vertaler: Melina Smit. Redigering: Jurie & Elsje Taljaard.
Kom kuier gerus by ons nuwe e-Boekwinkel.