
Tydens die Anglo-Boereoorlog was offisiere van die Coldstream Guards – die oudste regiment van die Britse Staandemag – erelede van hierdie klub. Sedertdien is enige van die Coldstream-garde van enige oorlog of generasie outomaties ‘n lid van die Graaff-Reinet Klub wanneer hy hom in dié dorp bevind. Maar hulle kan van geluk spreek, want gewoonlik sou enigeen wat ‘n vuurwapen in die kroeg afvuur summier en lewenslank geskors word.

Sien, die dag toe dit rugbaar word dat die Anglo-Boereoorlog beëindig is, het die Coldstreamers die kroeg binnegeval vir ‘n wilde partytjie. Hulle was uiteindelik op pad huis toe. Niks meer gejaag agter ontwykende Boere oor berge en dale en vlaktes nie. ‘n Paar van Haar Majesteit se roekeloser dapper krygers het op die toonbank gespring (vervaardig uit herwinde kiaatplanke van ‘n skeepswrak in Algoabaai) en hul rewolwers leeggemaak in die kroegtoonbank en die vloer.
Daar word ook hier in die kroeg ‘n 105-millimeter patroondop uitgestal wat ‘n Kubaanse Tenk met ‘n fatale skoot gelooi het tydens die Angolese oorlog in die laat 20ste eeu. Ander interessante stofopgaarders sluit ‘n paar wynverkoelers, gemaak uit olifantvoete, in. Daar is steeds omtrent 250 bittereinders wat saans ‘n wyle daar kom spandeer saam met die edele – effens beskonke – soldaatskimme uit die verlede.
Uittreksel uit Knapsak vol Karoo I, deur Chris Marais en Julienne du Toit (MLM Uitgewers, 2009). Vertaler: Melina Smit. Redigering: Jurie & Elsje Taljaard.
Kom kuier gerus by ons nuwee-Boekwinkel.