Knapsak vol Karoo II – Krieket op ‘n Karoo Plaas

krieket 1

krieket 1Jy is toeskouer van ‘n plattelandse krieketwedstryd op ‘n  Saterdagnamiddag in die somer op ‘n Karooplaas.  Min dinge kan hierby kersvashou.

Blackie de Swardt van die plaas Prior Grange, naby Springfontein in die Suid-Vrystaat, is die aanvangskolwer en paaltjiewagter vir die plaaslike krieketspan.  Hy is ook die eienaar van die stuk veld waar hulle speel.

Daar is nie baie Karooboere wat ‘n suksesvolle onderneming bestuur en ook daarin slaag om terselfdetyd ‘n gholf “driving range” en ‘n krieketveld op sy grond op te rig nie.  Wat meer is, sy vrou Sheryl bestuur hul vyf gastehuisies – duidelik gaan alles nie oor skape nie.

cover 1Blackie se merino’s speel ook ‘n belangrike rol:  hulle hou The Oval  kortgekou en gereed vir wedstryde deur daar te wei.

Die Springfonteiners se opposisie kom van Bethulie, Colesberg, Tweespruit, Alliwal-Noord, Philippolis en selfs Noupoort, nóg ‘n Karoodorp wat eens ‘n belangrike spoorwegkruising was.

Skeidsregters dra baie keer sommer flipflops op die veld en as iemand ‘n grenshou slaan, soek selfs die toeskouers ook in die meerkatgate vir die bal.

Terug in die Klubhuis wag daar ‘n fees.  Vroue, meisies, kinders en ander geinteresseerde partye sit in groepies oral waar daar ‘n skaduweetjie is en cheer vir die manne in wit.

Hulle speel baie keer vir trofees, insluitend die Trans-Gariep Beker, wat tussen Springfontein en Colesberg besleg word.  ‘n Gemonteerde Wildebees-kopbeen word dan formeel aan die wenspan oorhandig.

En dan is dit oor na die bier en boerewors en die geselligheid van ‘n naweek wel gedaan …

Die storie verskyn in Knapsak vol Karoo II deur Chris Marais en Julienne du Toit en is beskikbaar as ‘n e-Boek op die Karoo Space e-Boekwinkel.

Leave a Reply

Your email address will not be published.