Knapsak vol Karoo II: Flitsende Lemme

lowknap0003

Tydens die lente word die Hantamstreek van Namakwaland ‘n glinsterende versameling blomme.  As jy noordwaarts op pad is vanaf Nieuwoudtville, ry jy verby ‘n kokerboomwoud op ‘n berghang en eensklaps is jy in Loeriesfontein waar uitbundige gousblomme orals in die tuine en strate gesig wys.

Hulle groei ook in al hulle weelde tussen een van die merkwaardigste batteljon windpompe in die wêreld.

cover 1Die Staalblomme van Loeriesfontein is vandag besig.  Daar’s ‘n stywe briesie van die Kaap se kant en die lemme is aan’t spin.  Jy sien deesdae selde nog ‘n Canadian North model op die Karoovlaktes woer, maar hier kry jy hom entoesiasties aan’t water pomp.  Die Star Zephyr swaai trots in die bries en vang die lig van die son.  Die Conquest en die Gearing Self-Oiled en die Dandy kreun ‘n hartseerpsalm uit in geroeste harmonie.  ‘n Paar gesoute veldstryders skuur lyflastig teen die ketting wat hulle bewegingloos hou, kop aan stert gebind.  Jy sien sommer hulle wil saampraat.

Stap deur die Fred Turner Museumgronde en jy sal afkom op baie ander windpompsoorte wat gehelp het om die Karoo en Kalahari oop te maak vir setlaars:  Massey-Harris, Leers, Spartan, Atlas, Wonder, Springbok, Beatty Pumper, Spilhaus & Co, Eclipse, Fairbanks, Malcomess, Vetsak President en die immer-gewilde Climax en Aermotor.

‘n Voortreflike museumkurator sal jou al die uitstallings wys.  Van ’n ou gehoortrompet tot ‘n doopfont, van boeke oor die Boesmanland tot ‘n spesifieke spesie vetplant wat tussen die windpompe groei.

Voor jy vertrek, moet jy ‘n oomblik alleen tussen die Staalblomme spandeer terwyl hulle verhale van die oop vlaktes vertel.

Die storie verskyn in Knapsak vol Karoo II deur Chris Marais en Julienne du Toit en beskikbaar as ‘n e-Boek op die Karoo Space e-Boekwinkel.

Leave a Reply

Your email address will not be published.